Tema : Danksegging
Goeie dag.
Is dit nie ‘n besondere voorreg om daagliks die seën van die Here te ontvang nie.
Om in liefde gevoed, geklee, bewaar….. en versorg te word nie. Daar is egter ook ‘n gevaar daarin dat dit beskou kan word as ‘n reg, en nie ‘n voorreg, wat uit genade is. Dit is dan wanneer onvergenoegheid en gulsigheid intree. In NÚMERI 11 voorsien die Here vleis aan die volk in die woestyn, in die vorm van Kwartels. Sommige van die volk vergryp hul aan die gawe en ons lees die gevolge:
NÚMERI 11:33 AFR53
[33] Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van die Here alreeds teen die volk ontvlam het, en die Here het onder die volk ‘n baie groot slagting teweeggebring.
Die Here voorsien altyd genoeg, nie te min nie te veel. Dit is net redelik om te verwag dat ‘n opgevoede redelike mens, danbaarheid sal toon vir die geskenke wat ontvang word.
I TIMÓTHEÜS 4:3 AFR53
[3] ….. voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.
PSALMS 116:17 AFR53
[17] Ek sal U ‘n offer van danksegging bring en die Naam van die Here aanroep.
Dankbaarheid is nie ‘n vrug van die Gees nie. Dit is die vrug van goeie opvoeding en lewens waardes. Dit is nie aanwesig by bederfde en gemaksugtige mense nie. Dit is ‘n kwaliteit wat aangeleer word as ‘n mens swoeg en sweet om te oorleef. Dit is dan wanneer jy hulp in enige vorm, waardeer na waarde. Adam en Eva het eers die paradys waardeer toe hul vir hulself moes sorg.
Dankbaarheid is ‘n tema wat dwarsdeur die Woord gevind word. Nie net dankbaarheid nie maar die betoning daarvan. Dankbaarheid moet betoon word nie net in woorde nie, maar ook in gedrag. Dit is uit dankbaarheid vir dit wat ons ontvang het, dat ons God loof. Dat ons gehoorsaam is, dat ons heilig wil leef en , dat ons hard werk,…. ens.
Salomo het in sy wysheid besef dat dankbaarheid kom uit ‘n lewe van net genoeg. Te veel bederf en te min bring nood. Net genoeg hou jou afhanklik van die Here in alle aspekte van die lewe. Dit hou jou in gebed en dankbaarheid.
Genade en Vrede vir jou. David