Goeiedag.
Tema: Deel
Elke boer wat saai se hoop is ‘n goeie oes. Sonder goeie oeste kan boere nie bestaan nie want dit is hul inkomste. Hul kan nie hul produkte weggee nie want dan raak hul bankrot. Omdat Christene deur liefde gedryf word het hulle ‘n oop hand vir die nood van ander. Die motief om ander te help is nie om terug te ontvang nie, dus word nie gesaai nie maar gedeel. Trouens Jesus se woorde is:
LUKAS 14:13-14 AFR53
[13] Maar wanneer jy ‘n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, [14] en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.
SPREUKE spreek die motief waarmee mens gee so duidelik aan. Regverdiges gee met die hoop van beterskap vir die ontvanger. Wins jagters op mense in nood, ontvang God se toorn:
SPREUKE 11:23-26 AFR53
[23] Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is ‘n strafgerig van toorn.
Die Woord se beginsel is dat hy wat het moet deel met ander. Dit beteken nie om jou gesin te verarm en te laat swaarkry dat ander oorvloed kan hê nie. Die Woord sê gee soos jy in jou hart voel, met ander woorde soos die Here jou lei. Luister net na die volgende:
I KORINTHIËRS 13:3 AFR53
[3] En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.
Alles gaan dus om motief, moenie jouself bedrieg nie, God ken jou hart.
SPREUKE 11:23-26 AFR53
[24] Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.
[25] Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.
Die Woord kom met Sy wysheid as Hy sê:
[26] Hy wat koring terughou, hom vloek die mense; maar seëning kom op die hoof van hom wat koring verkoop.
Dit is dwaas om ander in nood te laat as jy kan uithelp, dit netso dwaas om nie ‘n billike wins te maak nie. Hierdie is ‘n groot en sensitiewe onderwerp omdat daar onderskei moet word tussen bakhand mense en mense in nood. Mag die Here jou wysheid gee.
Genade en Vrede vir jou.
David