Tema: Emosie beheer
Goeiedag.
Hoe goed is jy om jou eie emosies te beheer en die van ander rondom jou?
Ma’s kry baie oefening daarin wanneer hul kinders nog in die huis is. Die geroei en gestoei soos persoonlikhede ontwikkel is uitputtend as jy die een is wat vrede moet bewaar. Hierdie aangeleerde vaardigheid is noodsaaklik om ‘n geloofwaardige getuie in die lewe te wees. Sê die Skrif nie:
MATTHÉÜS 5:9 AFR53
[9] Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.
‘n Deel van die geheim van sukses daarin is:
SPREUKE 15:1, 4 AFR53
[1] ‘n SAGTE antwoord keer die grimmigheid af, maar ‘n krenkende woord laat die toorn opkom.
[4] Sagtheid van tong is ‘n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees.
Met ‘n sagte woord kan ‘n hele situasie dikwels ontlont word. Dit is instaat om ‘n wen wen situasie van ‘n netelige saak te maak. Dit is nie dat ‘n sagte woord onreg goedpraat nie, maar dit bring die waarheid met genade en liefde oor. Dit skei die emosie van die situasie en bring daardeur ‘n nugter siening van die saak. Dit leer om te beweeg vanaf persoonlike siening na objektiwe perspektief. Maw om wyer te kyk na ‘n situasie as net persoonlike gevoel.
Soos ‘n mens groei in hierdie vaardigheid, groei jou intellektuele en emosionele volwassenheid. Alle mense kry seer in die lewe, dit is integrale deel daarvan. As daar ‘n seer in jou lewe is oor reageer jy normaalweg. Woorde kan nie werklike hierdie seer genees nie, dit kan net [n meganisme daar stel om dit te hanteer.
Werklike emosionele en siels herstel kan net Die Vader se liefde bring. Soos Hy ook ons gees herstel met die wedergeboorte. Wanneer [n mens emosioneel herstel is, is daar volwassenheid en kan jy ‘n bron van lewe wees in ander se lewens. Dan veroordeel jy nie ‘n ander nie maar lei hul met goeie oordeel en wysheid. Dan bring die vrug van jou lewe, vrede in ander se lewens. Jou eie kinders se lewens getuig van jou invloed in hul lewe. Soms faal ons maar die Here se genade kom ons swakhede te hulp kom.
Genade en Vrede vir jou.
David