Goeiedag.
Tema: Misoes
As daar nou een ding is wat elke boer vrees is dit ‘n misoes. Al jou arbeid, sweet, geld en moeite kom tot niks en laat jou in die skuld. ‘n Totale teleurstelling wat moeilik oorkom word. Die Woord waarsku ernstig teen ‘n lewe wat uitloop op ‘n misoes. Dit is ‘n tragedie dat daar nooit ‘n kans is om ‘n misoes lewe te herstel nie. Daar is ‘n genade venster vir elke mens, ‘n tyd waarin jy oor kan begin. As die tyd verby is, is dit finaal verby, soos in Esau se geval:
HEBREËRS 12:17 AFR53
[17] Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.
Wysheid waarsku teen oneerlike wins, ‘n slagyster wat so maklik in getrap kan word omdat dit so wyd slaan. Voorbeelde; verkeerde keingeld aanvaar by ‘n kassier, ‘n werker te min betaal vir die ure wat daar gewerk is, woekerwins, slegte skuld,ens. Die Woord beskryf skuldiges as goddeloses.
SPREUKE 11:18-21 AFR53
[18] Die goddelose behaal oneerlike wins, maar hy wat geregtigheid saai, ‘n betroubare loon.
Die teenstelling is hul wat leef en laat leef in geregtigheid. Hul voorspoed is verseker. Die volgende aanhaling bevestig dieselfde gedagte:
SPREUKE 11: 19 Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood.
Daar bestaan ‘n baie groot dwaling, dat die Here sondaars lief het. Mense is lief om vir sommer enige persoon in die straat te sê ” die Here is lief vir jou“
Volgens die Woord is dit ‘n leun, ‘n leun wat mense ‘n vals gevoel van sekerheid gee. Die Here sien ‘n persoon wat nie SY seun Jesus se evangelie aanneem nie as ‘n gruwel. Volgens die Woordeboek is dit iets of iemand, wat mens met afgryse en afsku vervul. Daar is veskeie verwysing in die Woord in die veband:
SPREUKE 11: 20 Die wat verkeerd van hart is, is vir die Here ‘n gruwel; maar Hy het behae in die wat regskape van wandel is.
SPREUKE 11: 21 Sekerlik, die slegte bly nie ongestraf nie; maar die geslag van regverdiges raak vry.
Ongelowiges sal gestraf word omdat hul God se genade gawe verwerp het. Hulle wat Hom aangegryp het vir velossing ontsnap Sy oordele.
Genade en Vrede vir jou.
David