Goeiedag.
Tema: Weldaad
My en jou ekonomiese welstand is vir die Here belangrik Die Woord gee heelwat raad, direk en indirek hoe om met geld te werk. Vandag se Skrif gaan oor borg staan en weldade bewys, die Here beskou dit as so belangrik dat Hy dit herhaal:
SPREUKE 11:15, 17 AFR53
[15] Baie sleg word iemand behandel as hy vir ‘n ander borg gestaan het; maar hy wat haat wie die handslag gee, is veilig.
[17] ‘n Man wat ‘n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel, maar ‘n wreedaard pynig sy eie vlees.
Om borg te staan is nie sonde nie, maar dit is ‘n ekstreme dwase en onwyse ding om te doen. Wanneer jy dit doen, is jyself en jou geliefdes bloot te gestel aan bankrotskap en ellende. Dit kan lei tot die pynlike ervaring waar jou goed opgeskryf kan word om verkoop te word oor ‘n ander se skuld. As jy die fout begaan het, raai die Woord jou aan om nie te rus voordat jy losgemaak daarvan nie. Ons het reeds gesien in:
SPREUKE 6:1-5 AFR53
[1] MY seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir ‘n vreemde jou handslag gegee het, [2] verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond, [3] doen dan dit, my seun, om jouself te red — want jy het in die hand van jou naaste geraak — gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste, [4] gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie; [5] red jou soos ‘n gemsbok uit die hand, en soos ‘n voël uit die hand van ‘n voëlvanger.
Om borg te staan beteken dat ‘n ander mens skuld kan aangaan op die voorwaarde dat jy daarvoor sal betaal as die persoon nie betaal nie. Mense doen dit gewoonlik as hul ‘n persoon jammer kry, soos vir ‘n kind of familie lid. Wanneer jy borg vereis word, is wanneer die instansie wat die geld voorskiet van mening is dat die lener bo hul vermoë leen. Hulle weet uit ondervinding van beter, moenie eiewys wees nie. Moenie wreed wees teenoor jouself nie, dit is nie ‘n weldaad wat jy bewys nie. Laat hulle wat iets nodig het gaan bid daaroor en die Here vra daarvoor. Hy weer die beste.
Genade en Vrede vir jou.
David