Goeiedag.
Tema: Vrolikheid
Ken jy die uitdrukking; die lewe is ‘n lied, maar soms verloor ons die wysie. Dit is tragies dat, die lewe dikwels ook die lied uit die mens se lewe haal. Dit is nie ‘n skande om soms donker tye te beleef nie. Dit kom verseker oor elke mens se pad.
In die Woord lees ons oor die donker tye wat oor die profete en konings gekom het, en hoe hul dit oorwin het. Ons lees ook van Paulus en Silas wat in die tronk in hul boeie gesing en lofliedere geuiter het. Dit vat ‘n lang pad om te groei tot die punt waar die omgewing en omstandighede nie die bepalend rol speel, in jou gemoeds toestand nie. Dit is ‘n pad wat met moeite en lyding gepaart gaan. Dink maar aan Job se lydens pad. Dit is eers toe God hom ontmoet het dat hy begrip verkry het. Ware vreugde in die lewe kom eers as jy ‘n nuwe mens word, wanneer daar ‘n nuwe hart in jou is.
SPREUKE 15:13, 15 AFR53
[13] ‘n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig.
[15] Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.
Die Here gee ‘n nuwe hart, ‘n vrolike hart vol verwagting, [n hart wat die onsienlike sien. Daarin is die vreugde. Kyk na Abraham:
HEBREËRS 11:10 AFR53
[10] Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
Daarom kan ek en jy ook in blydskap en vreugde lewe want ons verwagting is groter as enige omstandighede. Ons verwagting is dieselfde as die van Abraham, Jesus het vir ons gaan plek voorberei in die Vader se huis. Hy kom ons haal. Daarom kan Paulus sê:
FILIPPENSE 4:4-5, 7 AFR53
[4] Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! [5] Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.
[7] En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.
Dit is genoeg om oor te borrel van vreugde. Om ‘n ewige lied in vreugde en vrolikheid te sing. Om te straal van die lewende water binne in jou.
Genade en Vrede vir jou.
David