Goeiedag.
Tema: Leiding
Uit die Woord leer die mens wysheid en kennis vir elke dag se lewe. Een van die belangrike lesse is die van raadgewers in die lewe. Job se vriende was ook sy raadgewers, wat sin probeer maak het uit die chaos in sy lewe. Sonder hulle sou hy alleen sy las moes dra. Hul was nie noodwendig reg nie maar het genoeg omgegee om hom te probeer help. Daar is briljante raadgewers in die verlede sowel as vandag.
II SAMUEL 16:23 AFR53
[23] En die raad wat Agitófel in dié dae gegee het, was asof ‘n mens die woord van God geraadpleeg het. So was elke raad van Agitófel vir Dawid sowel as vir Absalom
Dit is die tipe raadgewers wat noodsaaklik is in elke mens se lewe, hul vermaan, lei en rig. Soek sulke mense op in jou lewe, en gryp tug en teregwysing aan.
SPREUKE 10:17-19 AFR53
[17] ‘n Pad ten lewe is hy wat die tug in ag neem; maar hy wat die teregwysing veronagsaam, raak verdwaald.
Die vrug van ‘n gebroke wêreld is dat alle mense pyn en teleurstelling beleef. As daar nie gedeel word met die seerkry nie laat dit letsels in jou siel. Sulke letsels bepaal jou gedrag vir die res van jou lewe. Tipies gedrags probleme is oorsensitiwiteit, humeur, vrees, isolasie, skuldgevoens, verwerping en ander negatiewe simptome. Jou enigste oplossing is om die regte perspektief te kry en te vergewe. Die vrug van onvergewinsgesindheid is bitterheid wat omsit in haat. Die volgende vers wys op simptome van siels letsels.
[18] Hy wat haat verberg, het valse lippe; en hy wat skindertaal uitstrooi, is ‘n dwaas.
As die seerkry traumaties was en is, is dit bitter moeilik om te vergewe en kan mens gewoonlik nie alleen dit verwerk nie. Hulp is nodig om perspektief te verkry sodat daar vergewe kan word. Soms verwerp mense die Here oor dit wat met hul gebeur het. Sonder vergifnis in jou lewe sal jy nooit vrede beleef nie. Dit is onverstaanbaar hoekom sommige nie gebruik maak van die herstel wat Christus bring vir die mens nie. Die keuse is joune, die vrug van herstel is vreugde.
Genade en Vrede vir jou.
David