Goeiedag.
Veilge hawe
Een van die grootste voorregte in die lewe is om in ‘n funksionele gemeenskap groot te word. ‘n Gemeenskap wat se waardes gevestig is in die Woord van God. Waarin gesinne die bou blokke vorm en die kerk en skool prominent ‘n opvoedings taak vervul. Dit is net moontlik as die gemeenskap waardes ‘n refleksie is van God se gebooie.
JOHANNES 14:21 AFR53
[21] Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.
Indien ‘n gemeenskap die gebooie onderhou volg die seën van die Here as vrug:
PSALMS 91:14-16 AFR53
[14] Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. [15] Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. [16] Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.
SPREUKE bevetig hierdie beginsel vir ‘n derde maal en dwarsdeur die Woord is ‘n relaas daarvan:
SPREUKE 10:27-29 AFR53
[27] Die vrees van die Here vermeerder die dae, maar die jare van die goddelose word verkort. [28] Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan. [29] Die weg van die Here is vir die opregte ‘n vesting, maar ‘n ondergang vir die werkers van ongeregtigheid.
In liefde is beskerming, Goddelike sowel as menslike beskerming. Trouens dit is die vervulling van die wet. Die toets vir liefde, jou liefde is of jy ‘n veilige hawe is vir ander. Die hele tema van die gemelde Skrifte is ‘n veilige omgewing. Is ander veilig by jou? Moet ander op hul tone wees rondom jou omdat jy ‘n skerp tong het, of ‘n los tong, veroordelend en foutsoekerig, selfgerig, fyngevoeilg ,ens. Ware liefde bou ander op en rig ander se lewe in ‘n positiewe rigting. Daar is ‘n diep vraag of ‘n mens waarlik liefde kan gee as Goddelike liefde nie deel is van jou wese nie. Elkeen mens moet ‘n aanwins vir hul breër gemeenskap wees, maar veral binne in jou eie gesin. Dit is jou getuie van redding.
Genade en Vrede vir jou.
David