Goeiedag.
Tema: Ywer
Almal wat al ‘n tou gestaan het by ‘n winkel waar die kassiere treurig is het al die fustrasie van ‘n lui mens beleef. Later voel dit asof jy kook van ongeduld, en jy belowe jouself dat jy koop nooit weer in daardie winkel nie. SPREUKE beskryf dit so treffend as hy sê:
SPREUKE 10:26 AFR53
[26] Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir die wat hom stuur.
Ek dink, dat sommige mense net te lui is om kinders van die Here te wees. Hul is soos rook in Sy oë of asyn vir Sy tande. Die grootste geheim van om ‘n kind van die Here te wees is, is om gehoorsaam te wees. Dit is nie om geseend te wees of gelukkig te wees of selfs nie te sondig nie. Hierdie dinge is die vrug van gehoorsaamheid en hoef nie gevra of verdien te word nie. Byvoorbeeld, ‘n mens kan elke dag die Bybel lees uit godsdienstigheid of uit jou beroep maar nooit dit verstaan of insig kry nie.
‘n Ander persoon lees dieselfde Bybel met ‘n benadering om die Here te soek in Sy Woord. Vir hulle breek die Heilige Gees die Woord oop, soos ‘n openbaring. Dieselfde aksie maar teenoorgestelde resultate. Om die Here te volg vra gehoorsaamheid aan Sy opdragte/gebooie in die Woord. Daar is ‘n vaste volgorde volgens HANDELINGE 2:38 en LUKAS 9:1-2 en ander om die Here te begin volg. Dit is ‘n progressiewe proses van leer en praktyk todat die mens op ‘n punt van diensbaarheid kom.
Dit is die proses van om die koninkryk van God te soek:
MATTHÉÜS 6:33 AFR53
[33] Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Die gevolge van luiheid in geloof word as volg beskryf:
SPREUKE 12:27 Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is ‘n kosbare skat vir ‘n mens.
SPREUKE 13:4 Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie, maar die siel van die vlytiges word versadig.
Die gedagte laat die vraag vir elkeen:
Hoeveel energie sit ons in ons volg van die Evangelie. Is Paulus se woorde op ons van toepassing:
HEBREËRS 5:12 AFR53
[12] Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.
Genade en Vrede vir jou.
David