Goeiedag.
Tema: Mikpunte
Kort en langtermyn mikpunte is die verloop van die lewe. Loop, praat,skool lees, werk….. , en die laaste en belangrikste een die ewige lewe. ‘n Mens stel dalk nie self jou mikpunte nie, maar die lewe self het vereistes waaraan jy moet voldoen. As jy dit nie behaal nie faal en krepeer jy. Wysheid gaan daaroor om hierdie mikpunte suksesvol te bereik. Wysheid leer die mens om die regte mikpunte na te streef.
SPREUKE verduidelik die lewensloop aan die hand van die mens se wandel en handel. Hulle wat ‘n vaste fondament in die Woord het, se lewe verloop anders as die van ongebonde mense.
SPREUKE 10:28-32 AFR53
[28] Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan. [29] Die weg van die Here is vir die opregte ‘n vesting, maar ‘n ondergang vir die werkers van ongeregtigheid. [30] Die regverdige sal vir ewig nie wankel nie, maar die goddelose sal in die land nie bly woon nie.
Volgens vers 28 is die eerste kontras; ‘n lewe van vreugde teenoor ‘n lewe van wanhoop. Waar geregtigheid is, is liefde en omgee , vreugde en geluk positiewe verwagtinge. Regverdiges is hulle wat gehoorsaam is aan die Evangelie. Die Evangelie bring waardes, respek en grense waarvan die resultaat vreugde en hoop is. Sonder liefde is verwerping en wanhoop. Uit vers 29 kan gesien word dat die waardes wat God bring, ‘n vaste fondament is vir die lewe. Hierdie waardes beskerm en beveilig die mens. Dit is nie nodig om te soek na wat reg en verkeerd is en rond te val vir die resep van sukses nie. Die geheim daarvan lê in gehoorsaamheid aan die Woord. Omdat God se waardes die regte maatstaf is sal enige afwyking daarvan noodwendig slegte gevolge bring.
In vers 30 is ‘n belofte van ewige voorspoed. Op aarde sowel as in die hemel. Die goddelose daarin teen sal selfs in hierdie lewe mislukking beleef. Hoe kan gelowiges dan ‘n verskil maak ?
My en jou lewe moet ‘n voorbeeld wees van geregtigheid en liefde. Woorde wek voorbeelde trek.
Genade en Vrede vir jou.
David