Goeiedag.
Tema: Meegevoel
Wanneer ‘n mens self deur lyding, swaarkry, stryd en derglike dinge gegaan het kry jy medelye met ander wat dit beleef. As jy nooit gefaal het in jouself nie, hoe sal jy die gevoel van verslaenheid ooit kan verstaan. Paulus het uit ondervinding geleer om medelye te hê en nederig te bly. Hy skryf op twee plekke persoonlike swakheid:
ROMEINE 7:24 AFR53
[24] Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
II KORINTHIËRS 12:9 AFR53
[9] En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.
Salomo het lank voor Paulus al sy eie onvermoë besef, tenspyte daarvan dat hy die slimste mens ooit was. Daarom skryf hy:
SPREUKE 11:12-13 AFR53
[12] Die verstandelose verag sy naaste, maar ‘n verstandige man bly stil. [13] Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ‘n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ‘n saak.
Net mense sonder verstand verag ander mense. As jy verstandig is verstaan jy menslike swakheid, uit jou eie belewenis. Dink maar aan Jesus en Stefanus wat gebid het vir die wat hul vermoor het. Hulle het die mens verstaan. Dit is so maklik om ander te oordeel maar so moeilik om die gebod te gehoorsaam om nie ander te oordeel nie, maar jou self te oordeel. Per slot van rekening het ons almal foute en swakhede eie aan ons persoonlikheid. My foute verskil dalk net van ‘n ander se foute. Maar foute bly foute, die graad daarvan mag net verskil. ‘n Vriend van my het altyd gesê; “Dank die Here vir al die moeilikheid wat ek nie het nie”.
Salomo se tweede spreek is net so treffend. Moenie kwaad spreek nie, laat geheime geheime bly. Na my mening is die bedoelling om ‘n ander se swakhede te bedek, nie dat hul kan voortgaan met hul verkeerde dade nie maar om dit reg te hanteer. Dit gaan daaroor om sensitief in persoon, dit direk aan te spreek. Die Woord gee hieroor ook raad in MATTHEUS 18: 15 – 17. Kwaadsprekery smeer net ‘n ander persoon se beeld swart en bring geen herstel nie. Het ons genoeg liefde om ‘n ander in meegevoel te help herstel?
Genade en Vrede vir jou.
David