Goeiedag.
Tema: Regerings
Die omvang van die sake wat aangespreek word in SPREUKE is verstommend. Soos ons voerentoe beweeg in die boek kom nuwe onderwerpe na vore wat gemis word as die boek net deur gelees word. Vandag kyk ons na die taak wat aan ‘n gelowige gegee word in regerings sake. Dit is nie ‘n opsionele saak nie, die uitvoer daarvan bepaal in ‘n groot mate jou persoonlike welstand en vryheid. Goeie regering behels persoonlike aanspreeklikheid en integriteit van amptenaary. Salomo gooi die klip in die bos met die volgende stelling;
SPREUKE 11:14 AFR53
[14] As daar nie goeie oorleg is nie, val ‘n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding.
Hy stel dit duidelik dat ‘n regeringvorm van diktatorskap ‘n volk vernietig. Waar wye konsultasie plaasvind word balans kennis en voorspoed bereik. JOB beskryf die toestand van ‘n regering wat nie God se seën dra nie;
JOB 12:24 AFR53
[24] Hy neem die verstand weg van die volkshoofde van die land en laat hulle ronddwaal in ‘n wildernis, sonder pad.
Paulus wat ‘n wyse man was skryf aan Timòtheüs in die verband:
I TIMÓTHEÜS 2:1-3 AFR53
[1] IN die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; [2] vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. [3] Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,
Hy spoor die gelowiges tot vier aksies aan. Eerstens, smeking. Smeking is wat dit sê, dit is nie gewone gebed nie, dit is soos toe Hanna voor die Here gepleit het om haar smaad weg te neem (1 Sam 1: 12 – 16). Die tweede aksie is gebede wat almal bekend is mee. Die derde is voorbidding; dit is waar gebid word vir kennis en insig nog voordat besluite gemaak word, sadat die regte besluite geneem kan word. En dan laastens danksegging vir die verhoring van gebed en die regte besluite wat geneem is. God wil dat die mens ‘n rustige, veilige, stil lewe moet lei want die vrug daarvan is welstand en voorspoed. So ‘n gemeenskap behaag Hom.
Die vraag aan elkeen van ons is, wat doen jy vir jou gemeenskap en vir jou gesin se welstand? Is jy getrou om tenminste in jou binnekamer ‘n bydra te maak as jy nie aktief wil dien nie. Mag die Here met jou praat daaroor en jou aktief maak.
Genade en Vrede vir jou.
David