Goeiedag.
Tema: Vriende.
Een van die mees belangrike keuses in die lewe is jou vriende. Jou vriende is ‘n weerspieling van jou eie karakter en waardes. Die spreekwoord sê nie verniet: Aan jou vriende word jy geken, en, soort soek soort nie. Jy word soos jou vriende, en jou vriende word soos jy.
In die boek DÀNIEL, lees ons van vier vriende wat saam gestaan het en leiers van hul tyd geword het ten spyte van hul omstandighede. Hul het ‘n koninkryk help bou en die wereld ‘n beter plek help maak.
Maar dan lees ons ook van vriende wat ‘n koninkryk laat skeur en vernietig het. Die geskiedenis word beskryf in 2 KRONIEKE 10, in die lewe van Jerobeam.
Die kontras tussen die twee gevalle is soos dag en nag. Voorspoed teenoor verval.
Die nadeel van verkeerde vriendskappe is soos dryfsand, jy sak stadig in en dit suig jou ongemerk vas. Wanneer jytot die besef kom, van jou situasie verg dit moeite om vry te kom. Dit is veliger om met min kwaliteit vriende deur die lewe te gaan as met baie waardelose vriende:
SPREUKE 18:24 AFR53
[24] ‘n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is ‘n vriend wat sterker aanhang as ‘n broer.
Goeie mense is soos die room in die melk. Room dryf bo en is waardevoller as die melk. Dit is nie dat melk sleg is nie, maar room is baie beter. Elke mens kan kies of hul room of melk is, elke mens het ‘n vrye keuse. Baie vriende is soos die melk, terwyl die room gehalte vriende is.
Jong mense het hul lewe voor om goeie vriende te selekteer, maar hoe gouer hoe beter want dit bepaal jou toekoms. Die Woord is nie onduidelik oor die waardes waaraan ‘n mens moet voldoen om die sout van die aarde te wees nie. Gebruik jy dit as maatstaf in jou keuse van vriende? Kwalifiseer jou huidige vriende volgens die Woord se maatstawwe?
Inspireer jou vriende jou tot vooruitgang of tot plesier. Plesier is baie nodig in die lewe maar dit is nie vreugde en vervulling nie. Dit wat mens doen moet van waarde wees, vir jouself en vir ander.
Op die einde gaan die Here oordeel oor jou werke en jou daarvolgens vergoed. Mag elkeen baie vergoeding kry.
Genade en Vrede vir jou.
David