Goeiedag vriende.
Tema: Sekerheid
Mense wat werklik in die vrese van die Here lewe staan onwillekeurig uit in hul omgewing. Nie soos persone met oormaat selfvertoue nie, maar met ‘n stille kragtigheid. Hul is doelgerig en standvastig en het ‘n visie vir die toekoms. Die volgende kragtige vers spreek van beide, die letterlike, en die figuurlike:
SPREUKE 19:23 AFR53
[23] Die vrees van die Here is tot die lewe; en versadig bring ‘n mens die nag deur, sonder om deur ‘n onheil besoek te word.
Die omvang van die vers kan verstaan word, met die volgende as agtergrond kennis:
PSALMS 127:1 AFR53
[1] ‘n BEDEVAARTSLIED. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.
Wanneer jy met die Here saamwerk is jy suksesvol, wanneer jy by die Here skuil is jy veilig. Die Here sorg vir jou soos vir die mossies. Hy klee jou soos die lelies, jy sweef soos ‘n arend. Simon Petrus het verander van ‘n bang man met ‘n swaard na ‘n man waardeur die Gees boeke van diep insig in die Woord geskryf het. Hy het ‘n rots geword.
Dawid het vir Goliat, wat God nie gevrees het nie verslaan en voortgegaan om ‘n magtige held in Israel te word. Stefanus het die hemele geopen gesien en Jesus sien staan aan die regterhand van God.
Ons het wolke van getuienisse rondom ons, om die Woord se woorde te gebruik. As jy nog vrese in jou lewe het, is die vraag waarom? Vrese van God verlos ons van vrese van die wereld en vrees vir die dood. Glo jy nie, dat God engele rondom jou beskik, wat jou op die hande kan dra nie. Glo jy nie dat om in God te lewe, jou in die hemel bring nie. Glo jy, dat jy deur geloof, God kan behaag, dat dit Hy is wat vir jou wil, en deur jou werk nie? Wanneer jy in Hom is, en Hy in jou , is jy onaantasbaar want Hy is onaantasbaar. Dit bring daardie stille versekering in jou hart en wese, wat as ‘n krag sigbaar is in jou lewe. My bede is dat jy hierdie Skrif waarheid sal bepeins en jou eie maak. Dat jy sal wandel in die krag wat kom vanaf sekerheid.
Genade en Vrede vir jou.
David