Goeiedag.
Tema: Twis
Daar is ‘n pragtige Afrikaanse spreekwoord:
Terwyl die herders twis roof die wolf die skape. Dit beteken; gebrek aan samewerking bring skade. Waar twis is is daar nie eenheid nie, en kom krake in wat later vergroot tot skeure. Die Woord assosieer sekere karakter swakhede met twis.
Onwaardigheid en sotheid :
SPREUKE 20:3 AFR53
[3] Dit is ‘n eer vir ‘n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los.
Driftigheid en opvliendheid:
SPREUKE 15:18 AFR53
[18] ‘n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar.
SPREUKE 29:22 AFR53
[22] ‘n Opvlieënde man verwek twis, en ‘n driftige man is ryk aan oortreding.
Dwaasheid en onverstandige optrede:
II TIMÓTHEÜS 2:23 AFR53
[23] En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek;
Paulus stel dit duidelik dat dit nie hoort by gelowiges nie:
I KORINTHIËRS 11:16 AFR53
[16] Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so ‘n gewoonte nie, en ook die gemeentes van God nie.
Twis is die simptoom van opgehoopte frustrasies, bedekte ongelukkigheid, en bedekte woede. Gebeure wat irriteer of grief tot ‘n punt van uitbarsting. Daarom sê die Woord:
EFÉSIËRS 4:26-27 AFR53
[26] Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; [27] en gee aan die duiwel geen plek nie.
Wanneer die lastighede in ‘n persoon se lewe nie opgelos word nie lei dit tot ‘n ketting reaksie van groot skade. Soos ‘n onbehandelde stukkende plek, wat lei tot ‘n seerplek, tot ‘n abses, tot bloedvergiftinging tot gangreen, tot amputasie. Die duiwel sal die rokie van ongelukkigheid stook tot ‘n verwoestende brand. Dit is wys om eerlik en van oog tot oog met mekaar om te gaan en nie vir mekaar te lieg nie. Slegs dan kan ‘n opbouende pad saam geloop word. Dink jy dit geld in alle gevalle soos; werks verhoudinge, kerk lidmaatskap, liefdes verhoudings, huwelike, ens? As jy dan saamstem, hoe lyk jou eie frustrasie vlakke, genoeg om uit te bars in ‘n twis met die gepaardgaande skade? Dalk moet ‘n plan van aksie oorweeg word, wat vryheid bring.
Genade en Vrede vir jou.
David