Goeiedag.
Tema: Vryheid
Die Franse revolusie se slagspreek was vryheid, gelykheid en broederskap. Aanvanklik was die term dood by, wat ‘n kenmerk was van daardie gebeure. Hierdie drie waardes verteenwoordig persoonlike waardigheid, en ‘n begeerte daarna is in alle mense lewendig. Sonder geregtigheid, bring lewenswaardes op hierdie moto gebasseer chaos en dood. Vryheid is nie om te maak en doen soos jy wil nie. Paulus bring die Christelike perspektief van vryheid;
GALÁSIËRS 5:13 AFR53
[13] Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.
Ware vryheid is nie wetteloosheid nie. Alhoewel sommige dit graag so wou hê. Vryheid is ook nie ‘n lewe sonder verantwoordelikheid nie. Vryheid is nie ongebondenheid nie maar ‘n lewe verbind tot die gebod van God. Vryheid is gewortel in liefde, Goddelike liefde en menslike liefde. Salomo lig baie praktiese voorbeelde uit van vryheid vergrype, ek noem net n paar:
SPREUKE 20:10, 14, 17 AFR53
[10] Twee soorte gewig, twee soorte maat — hulle altwee is vir die Here ‘n gruwel.
[14] Sleg, sleg! sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom.
[17] Soet is vir ‘n mens die brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies.
Misbruik van mag en vryheid het vernietigende gevolge vir beide ‘n oortreder en ‘n slagoffer. Gelowige slagoffers kry egter herstel en troos van die Here. Oordink maar hoe Bileam nie ‘n vloek oor Israel kon uitspreek nie, maar net n seën.
Omdat gelowiges die vryheid het om te vergewe, keer hul daardeur die negatiewe om in ‘n positiewe gebeurtenis. Die kwaad word oorwin deur die goeie. Die kwaad oorwin dalk in ‘n geveg maar die goeie wen die oorlog. Hoeveel is jou vryheid vir jou werd? Laat jy toe dat ander dit wegneem en jou diensbaar maak? Die lewe vereis van ons om sekere dinge te doen, jou gesindheid daaroor bepaal of jy dit in vryheid of in dwang doen. Alhoewel Josef die seun van Jakob onskuldig in die tronk gegooi is kon hul nooit sy vryheid van hom wegneem nie. Is sy lewe nie ‘n voorbeeld wat ons kan navolg nie?
Genade en Vrede vir jou.
David