Goeiedag.
Tema: Dienaars
Daar is baie dinge in die lewe wat ‘n mens aanpak sonder opdrag van ‘n baas. Uit eie inisiatief, wat dan ‘n verpligting word. ‘n Voorbeeld is mense wat verwaardelose diere versorg uit liefde. Dit raak ‘n noodsaaklike diens waarop die gemeenskap staat maak. Daar is geen terugvoer of toesighouding nie, net jou eie standaard bepaal die kwaliteit van die diens. Ek is van mening dat om die Here te volg ‘n soortgelyke situasie is. Die mate waarin jy sy koninkryk dien is ‘n hart saak. Niemand verplig jou of hou toesig oor jou nie, inteendeel opposisie teen jou diens is normaal. Tog is die blote feit dat so ‘n onderneming om goed te doen, van die Here kom. HY open jou oë en ore en hart, om die behoefte raak te sien en te reageer.
SPREUKE 20:12, 15, 27 AFR53
[12] ‘n Oor wat hoor, en ‘n oog wat sien — die Here het hulle altwee gemaak.
[15] Daar is goud en ‘n menigte korale, maar ‘n kosbare sieraad is die lippe van kennis.
[27] Die gees van die mens is ‘n lamp van die Here, dit deursoek al die kamers van die binneste.
Kennis en insig is n gawe uit SY hand, maar dit kom nie sonder moeite en werk nie. Dit word verwerf deur studie, waarneming en blootstelling. Die Here spreek in die gees van die mens om te verstaan wat gebeur. Een van die meer bekende voorbeelde is die Èmmaus gangers se verhaal in LUKAS:
LUKAS 24:13, 31 AFR53
[13] EN twee van hulle was dieselfde dag op pad na ‘n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs.
[31] Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn.
Die Woord sê, hul harte het ‘n brandende begeerte gehad wat vervul is. Die geleentheid om te dien is rondom ons, dit staar ons in die gesig. Dit vra net om jou oé oop te maak vir die taak op hande. Dikwels is dit so naby as jou eie gesin, indien jy dit nie raak sien nie vra maar net. Is jy sensitief vir die behoeftes rondom jou?
Voel jy, jy dra saam aan die verantwoordelikhede rondom jou?
My bede is dat elkeen se harte en oë oop sal gaan vir die geleethede om te dien rondom ons, sodat die ware lewe nie ongemerk verby gaan nie.
Genade en Vrede vir jou.
David