Goeiedag.
Tema: Lewens energie
In die lewe van vandag is geestes gesondheid van die samelewing in ‘n groot krisis. Baie mense spook met die sin van die lewe en vind geen vervulling nie. Hul word verlam deur die samelewing wat eise stel waaraan hul nie kan voldoen nie. Ek dink nie dat die eise noodwendig verander het nie, maar dat die bron van krag vir baie verlore gegaan het. Jesus openbaar ‘n diep lewens geheim in JOHANNES 15: 1-8; Vers 4 gee die essensie daarvan:
JOHANNES 15: [4]
Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
Die waarheid van die stelling word in die geskiedenis illustreer, veral in die lewe van Israel van ouds. Terwyl hul die Here gevolg het was daar vooruitgang en voorspoed. Wanneer hul hul eie kop gevolg het, was ellende die gevolg daarvan. ‘n Lewe van geregtigheid bring vreugde:
SPREUKE 21:15 AFR53
[15] Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar ‘n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid.
God ondersteun en bekragtig ‘n lewe van geregtigheid. Hy is nie passief of onbetrokke in die lewe van SY kinders nie:
JESAJA 64:4-5 AFR53
[4] Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ‘n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U. [5] U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink op u weë…..
Gelowiges bou op die rots Jesus Christus daarom bly hul werke staande. ‘n Gemeenskap van gelowiges is ‘n model gemeenskap van seën. Die teendeel geld ook; ‘n gemeenskap van ongelowiges is ‘n gemeenskap van verval. Dit geld nie net vir die aardse lewe nie, maar ook vir die ewigheid:
ROMEINE 2:6-7 AFR53
[6] wat elkeen sal vergeld na sy werke: [7] aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek — die ewige lewe;
Daar is ‘n dubbele beloning vir ‘n regverdige lewe, vreugde vir elke dag en beloning in die hiernamaals. Dink jy nie dat ‘n mens se gemoedstoestand ‘n weërspieling is van sy geloofslewe nie?
Genade en Vrede vir jou.
David