Goeiedag.
Tema: Roepstem
JESAJA 21:11-12 AFR53
[11] ….Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag? [12] Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug, kom.
God het mense aangestel as wagters op die mure van die samelewing, wat moet waarsku teen gevaar. Dit is deel van SY liefde vir ‘n mensdom, wat verkies om nie te luister nie. SPREUKE se hoof tema is; luister na na WYSHEID sodat jy kan lewe. Dit lig die gevare en gevolge van dwaasheid uit soos byvoorbeeld:
SPREUKE 21:6-8, 10 AFR53
[6] Die verwerwing van skatte deur ‘n valse tong is ‘n verwaaide asem — dodelike valstrikke. [7] Die gewelddadigheid van die goddelose sleep hulle weg, want hulle weier om reg te doen. [8] Gekronkeld is die weg van ‘n skuldige mens; maar die reine — sy handeling is reg.
[10] Die siel van die goddelose begeer die kwaad; sy naaste vind in sy oë geen genade nie.
Die geduld wat die Here met die mens het is verbasend. Noag het honderd en twintig jaar gebou aan die ark, nie in die geheim nie. Dit was so groot dat almal dit kon sien. Vandag nog gaan die stem van die kerk wereld wyd uit. Met kersfees, deur klokke die hele jaar, deur opsigtelike geboue, deur die lewens van gelowiges….. Daar is ‘n ononderbroke roepstem na Christus toe, wat die bose bitter graag sal wil stilmaak. Selfs die klippe van argeologie roep uit van die Here se werke. Dit is nie dat die Here klinies en emosioneel ontbetrokke roep nie. Die verwerping van SY genade en offer breek SY hart omdat HY alles gegee het om die mens te red.
MATTHÉÜS 23:37 AFR53
[37] Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!
Dikwels voel mens om te ween oor die toestand van mens. Maar net so dikwels raak mens kwaad, omdat mense hul nie wil bekeer tot die ware evangelie nie. Moet net nooit stil raak om waarheid te spreek nie.
Genade en Vrede vir jou.
David