Goeiedag.
Tema: Afskrik
Lyfstraf, ‘n loesing met ‘n rotang, vir die jonges wat nie verstaan nie, het ‘n skelwoord en ‘n kriminele oortreding in die Westerse wêreld geword. Vir diegene wat daarmee groot geword het, het die goeie vrugte daarvan gepluk soos dissipline, gesag, eerbied ens.
In daardie tyd was seshoue met ‘n rotang opgelê deur die landros, uitgedeel deur die Polisie diens, vir ligte oortredinge normaal. Oortreders het nie sommer weer ‘n misstap gemaak nie. Hoe voel jy oor lyfstraf ,dink jy daar is plek daarvoor in ons post moderne samelewing? SPREUKE wys op die golf effek van straf:
SPREUKE 21:11 AFR53
[11] As ‘n mens ‘n spotter straf, word die eenvoudige bedagsaam; en as ‘n mens ‘n wyse onderrig, neem hy self kennis aan.
In die tyd wat ek op skool was, het geen leerder tuiswerk ligtelik opgeneem nie omdat ‘n seer sitvlak jou voorland was. Ons lees God tugtig SY egte kinders en die wat HY liefhet. Die straf gaan nie om wraak of vergelding nie maar is gerig op korrektiewe gedrag. Wanneer straf konsekwent volg op foutiewe gedrag, motiveer dit mense om nie te oortree nie. Dit kan gesê word dat wyse mense leer uit ander se foute en groei daaruit. My waarneming is dat dogters beter doen met ‘n woordelike berisping terwyl seuns meestal ‘n bietjie afgestof moet word. Tug is ‘n Bybelse konsep wat onvervreembaar is van gelowiges. Waar geen tug is nie, vier geweld hoogty, emosioneel, fisies en verbaal. Daar is duidelik voorskrifte vir tug:
I TIMÓTHEÜS 5:1-3 AFR53
[1] ‘n BEJAARDE man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ‘n vader, jongeres soos broers, [2] bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid. [3] Eer die weduwees wat waarlik weduwees is.
I TIMÓTHEÜS 5:20 AFR53
[20] Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees.
Hierdie is ‘n baie groot onderwerp en kan nie in ‘n paar sinne tot reg kom nie. Een gedagte is egter duidelik dat tug en straf van die Here verwelkom moet word in elkeen se lewe. Daarsonder is jy nie ‘n egte kind nie.
Genade en Vrede vir jou.
David