Goeiedag.
Tema: Waarskuwings
Dit is baie wys om jouself te omring met mense van vermoë. Mense beter as jyself, wat jou met raad kan bedien wat beter is as jou eie planne. Raadgewers sal jou waarsku teen gevare en risikos wat voorlê en moontlike maniere om jouself daarvoor te verberg. Die domste van dom mense is hul wat nie beter raad aanvaar nie en koppig is in hul beperkte begrip en sienswyse. Dit is ook ‘n manier van hoogmoed wat die persoon duur te staan sal kom. Kyk wat staan geskrywe:
SPREUKE 22:3-4 AFR53
[3] ‘n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf. [4] Die loon van nederigheid is die vrees van die Here, is rykdom en eer en die lewe.
Wanneer jy onheil sien kom verberg jou, anders gaan jy skade ly en gestraf word vir jou onkunde. Met die kennis wat vandag vrylik beskikbaar is, is onkunde en misleiding amper onverskoonbaar. Gelowiges het die beste bron van kennis vir nou en die toekoms tot hul beskikking in die Heilige Gees:
JOHANNES 14:26-27 AFR53
[26] maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
Bostaande Skrif is duidelik gemik op die mense se saligheid. As jy bereid is om te luister is daar ‘n viervoudige seën op jou lewe volgens die vers uit SPREUKE:
Vrees van die Here,
Rykdom,
Eer,
En die lewe.
Die saligheid gaan oor baie meer as die gedagte om hemel toe te gaan. Alhoewel dit ‘n onbeskryfbare heerlikheid is waarna ons verlang. Dit is ‘n lewe van afwagting wat gelewe word tot Gods eer in die volheid van die verlossing deur Christus. Hierdie lewe in Christus is ‘n kosbare skat wat geen geld of goud kan koop nie. Omdat hierdie kosbare skat in ‘n kleipot is soos die profeet dit stel, wil die bose dit graag van jou beroof. Daarom is die SKRIF vol waarskuwings om jou nie te laat beroof nie. Soos elke skat in die wêreld bewaak word deur gewapende wagte word elke gelowige omring deur magtige Engele wanneer jy in HOM bly.
Bly in HOM!!!
Genade en Vrede jou.
David