Goeiedag.
Tema: Mens wees griep
Soms is ‘n mens dommer as ‘n donkie. Onthou jy die storie van Bileam se donkie wat sy lewe gered het toe die Engel die pad versper het. Dan die Afrikaanse spreekwoord van: ‘n donkie stamp homself nie twee keer teen dieselfde klip nie. As mens kyk na die volgende verse besef jy dat daar dalk waarheid in die gesegde is:
SPREUKE 23:29-36 AFR53
[29] By wie is „Ag!”; by wie is „Wee my!”; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?
[30] By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.
[31] Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie:
[32] op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk.
[33] Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek;
[34] en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.
[35] Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie!
[36] Wanneer sal ek wakker word? Dan sal ek dit weer opnuut soek.
Wanneer jy ‘n situasie soos hierdie in enige area van jou lewe beleef, het jy definitief hulp nodig. Ek wil dit sommer prontuit sê dat die duiwel ‘n houvas op jou het in hierdie gedrags patroon. Hierdie Skrif gedeelte beskryf ‘n drank afhanklikheid, maar dit is van toepassing in alle gedeeltes van die lewe waar jy ‘n slaaf van geword het.
Dinge soos swak finansieële dissipline, eetlus, dranklus, media verslawing, bitterheid, swak selfbeeld, slegte mense verhouding, luiheid, ens. Almal ly tot slegte gevolge. Dit vra eerlikheid met jouself om jou probleem te erken aan jouself en dan gekwalifiseerde hulp te kry. Normaalweg kan jy nie jouself help nie. Jy sou nie ‘n probleem gehad het as jy jouself kon vrymaak daarvan nie. Nie deur gebed, vas, of persoonlike krag nie. Dit vra ‘n verandering in denke en bron van krag. Net die bloed en oorwinning van Christus kan jou vrymaak, permanent, nie programme en eie krag nie.
Genade en Vrede vir jou.
David