Goeiedag
Tema:
Veilgheid
Elkeen sluit sy huis, motor, stoor, ens elke aand voor slapenstyd. Dit is verantwoordelikheid wat jy op jouself neem vir jou eie veiligheid en besittings. Min laat dit aan ander oor, want as dit nie gedoen word nie is jy blootgestel . Nog belangriker as jou besittings is jou gesondheid, gesin, denke en geloof. Tog neem baie min mense verantwoordelikheid vir hierdie kosbaarhede. Of dit uit onkunde of nalatigheid is weet ek nie. Dat dit ‘n groot risiko is, is verseker. Hierdie gedagte spruit uit die volgende waarskuwing.
Spreuke 23:20-21 AFR20
[20] Moet jou nie met die wynvlieë ophou nie, met dié wat hulle aan vleis ooreet nie. [21] Want ‘n dronklap en ‘n vraat sal verarm, en lomerigheid laat mens vodde dra.
Hierdie waarskuwing gaan oor meer as net slegte gewoontes. Dit is gerig op die gehalte van jou lewe. Terwyl wyn en vleis en ander dinge, aangenaam en lekker is, vernietig oordadigheid jou lewe. Dronkenskap, siektes, armoede, luiheid, elende , ens volg as jy ‘n slagoffer word van genotsugtigheid. Die strewe na ‘n oorvloedige lewe.
Wanneer ‘n oordadige lewe slegte vrugte begin dra, vlug mense dokters toe of vra hul vir gebed. Die skade het gekom omdat daar nie verantwoordelikheid geneem is vir eie ‘veiligheid’ nie. Niks en niemand kan die skade wegneem wat reeds voorgekom het nie. Dit is ‘n proses van herstel waarvan die tyd afhang van die mate van skade.
Dieselfde reels geld ook vir die mens se geestelike lewe. Nadat ‘n mens tot bekering kom en jou rug op die werêld draai is jy self verantwoordelik vir jou geloofs welstand. Jy is nou ‘n teiken vir die bose wat jou skade sal aandoen as hy kan en selfs jou redding sal steel as dit kan. Die alarms, slotte, traliewerk en deure van jou geestelike huis moet in plek wees, soos in die geval van jou fisiese huis. Dit is eienskappe soos nugter denke, ‘n rein hart, vergewings gesindheid, vrede, Woord lees, gebed, bepeinsing, en derglike geestelike dissiplines. Sonder hierdie geestelike wapenrusting is jy uitgelewer. Laat ons nie laks wees met ons geestelike paraatheid nie.
Genade en Vrede vir jou.
David