Goeiedag.
Tema: Betoon genade
In elke gelowige is die begeerte om volmaak te wees. Trouens dit is ‘n opdrag op baie plekke in die Woord, byvoorbeeld:
2 Korinthiërs 13:11 AFR20
[11] Ten slotte, broers, wees altyd bly, streef na vervolmaking, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede – en die God van liefde en vrede sal met julle wees.
Die gevaar in die strewe is eie poging, self tevredenheid, wettiese waardes, teleurstelling en baie ander. Die strewe is goed maar moet gebuffer wees met die waarheid van menslike feilbaarheid. Dit moet in wysheid uitgevoer word, daarom staan geskrywe:
Spreuke 24:15-16 AFR20
[15] Moenie soos ‘n goddelose die tuiste van ‘n regverdige dophou nie; moenie sy rusplek verwoes nie. [16] Want ‘n regverdige sal sewe keer val en opstaan, maar goddeloses kom tot ‘n val deur teenspoed.
Wanneer ‘n mens ander se lewe en optrede met ‘n kritiese valk oog dophou, sal daar geleenthede kom waarmee fout gevind kan word. Dan waarsku vers vyftien teen ‘n verdoemende aanval teen die persoon. Moenie ‘n ander se plek van rus in die Here probeer verwoes nie. Want sê vers sestien die persoon sal opstaan, maar jou goddelose veroordeling sal tot jou eie val lei. As daar nie genade en liefde in jou denke is nie, het jy nog nie die karakter van God nie.
Die meeste mense weet van die Evangelie, want in die laaste dae sal dit aan almal verkondig wees. Om te weet van is vêr verwyder van om dit te glo en jou eie te maak. Hulle wat dit hul eie gemaak het, word wedergebore om SY karakter te verkry. Dit word gekenmerk deur geregtigheid, liefde en genade. In die praktyk openbaar in: nugterheid, standvastigheid, heiligmaking, kennis, diensbaarheid, gebed, en al die goeie einskappe wat die Woord gee. Is elkeen ‘n boom van goeie vrugte van die Gees, of toon jou vrugte ‘n bron van bitterheid wat diep versteek is?
Jeremia 17:10 AFR20
[10] “Ek, die Here, deursoek harte en toets niere, om elkeen te vergeld volgens sy optrede, volgens die vrug van sy dade.”
Mag ons elkeen genade is SY oë vind.
Genade en Vrede vir jou.
David