Goeiedag.
Tema: Pynlike Vergifnis
Verhale van mense wat wraak neem omdat hul benadeel is vind groot byval by almal. Dit laat jou voel dat daar geregtigheid geskied en die slegtes kry wat hul toekom. In ROMEINE 12 sê die Here dat die wraak Hom toekom en dat Hy sal vergelde. Dit voel net te stadig vir ons. Maar dit bly verkeerd om vir ‘n ander te lag of jouself te verlekker in hul ongeluk:
SPREUKE 24:17-19 AFR53
[17] As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie, [18] dat die Here dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie. [19] Vererg jou nie oor die kwaaddoeners nie, wees nie afgunstig op die goddelose nie.
Wanneer iemand jou erge skade berokken het, is dit baie moeilik om te vergewe. Sulke mens-toegediende skade, bring ook gewoonlik emosionele skade. Veral as dit van hul kom wie jy vertrou het. Dikwels neem sulke wonde jare om te herstel en worstel ‘n mens met vergifnis. Dit is amper asof jy vir jouself weer en weer moet besluit om te vergewe. Dit is veral moeilik wanneer jy moet saamleef met die skade wat veroorsaak is. As die gevolge van die skade blywend is, vra dit genade van bo om in vergifnis te bly lewe, al het jy vrede gemaak met die gebeure. Om as gevolg van jou pyn, nie te wens dat hul erge teespoed moet ervaar nie. Dit steek jou sommer dwars in die krop wanneer Jesus dan kom en sê:
MATTHÉÜS 5:44 AFR53
[44] Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;
Ons sien egter in die Woord baie voorbeelde van mense wat in totale vryheid lewe ten spyte van die slegte wat hul beleef het. Dawid, Paulus, Job,en ander. Totale vergifnis bring totale vryheid, wat net deur Christus moontlik is. Deur SY krag kan ons die kwaad met die goeie oorwin.
As jy nog deur die pyn worstel om te vergewe, vat moed. HY sal jou instaat stel as jy vra. Vergifnis is bitter en voel soos verloor, maar dit is oorwinng. Die gevolg daarvan is ‘n nuwe oorwinnaars-lewe in vrede en voorspoed.
Genade en Vrede vir jou.
David