Goeiedag.
Tema: Diepte
PSALMS 19:2-3 AFR53
[2] Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. [3] Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan:…..
Die wyse manne uit die Ooste het vir jare gewag en die sterre hemel getrou bestudeer in afwagting vir die Ster van Bethlehem. Daarom was hul op tyd, om met die geboorte van Jesus hulde te bring. Daar was maar enkele ander wat wakker was om Sy geboorte te herken toe dit gebeur het. Jesus het in sy bediening op aarde die dieper betekenis van Sy woorde ook verberg in gelykenisse. Dit is net aan die wat ‘n honger en dors na die Woord gehad het aan wie dit openbaar is.
SPREUKE 25:2-4 AFR53
[2] Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur. [3] Die hoogte van die hemele en die diepte van die aarde en die hart van die konings is ondeurgrondelik. [4] Verwyder jy die skuim uit die silwer, dan sal daar vir die silwersmid ‘n voorwerp uitkom;
Die Saligheidsplan is die uitnemendheid van God se openbaring van Homself aan die mens. Dit is nie goedkoop of algemeen nie. Dit is net beskikbaar vir die wat bereid is alles te offer vir die verkryging daarvan. Vir hulle wat net terloops of uit nuuskierigheid daarna wil kyk is dit verborge. Dit is die eer van ‘n mens om dit na te jaag en te bepeins. Die openbaring van die ewige waarheid word gebalanseer met die poging wat ingesit word. Vir ander bly dit onverstaanbaar en ondergrondelik. Vers vier vergelyk dit met n silwersmid wat die skuim verwyder en die voorwerp van eer daar uithaal.
Die eerste eis van die saligheidsplan is bekering. My begrip van bekering is om jou verkeerde lewe vaarwel toe te roep en ‘n nuwe lewe te begin volgens die gebooie van God. Om jou hart vir die Here te gee is nie net ‘n gebed nie, maar ‘n kapitilering van self. Nie in woorde nie maar in lewenswyse. Eers dan sal God Sy dieptes aan jou openbaar.
Genade en Vrede vir jou.
David