Goeiedag.
Tema: Woord goud
Sal ‘n mens ooit die krag van woorde na waarde kan skat. Blykbaar hoor ‘n baba die ma se woorde nog voor geboorte. Dit het ‘n besondere invloed op die kind. Woorde van liefde versterk en bou op, ongeag ouderdom. Wanneer die woorde nog verder versterk word met goeie dade is die vrug daarvan merkwaardig. Die Woord beskryf hierdie gebeurtenis met simbole van oortreffende waarde:
SPREUKE 25:11-13 AFR53
[11] Goue appels op versierde silwerborde, so is ‘n woord op sy tyd gespreek. [12] ‘n Wyse bestraffer by ‘n oor wat luister, is ‘n goue ring en ‘n goue sieraad. [13] Soos die verkoeling van sneeu op ‘n oesdag, is ‘n betroubare boodskapper vir sy senders; want hy verkwik die siel van sy heer.
Goue appels, silwerborde,goue ring, goue sieraad, almal items wat met koninklike status assosieer word. Dit sê dat jou goeie woorde uit die HERE se hart kom. Slegte woorde is vernietigend en afbrekend, eienskappe wat met die Duiwel assosieer word. As woorde dan ‘n uitdrukking van gesindheid is, liefde teenoor haat, wat sê dit dan van die persoon wat dit uitspreek? Ek vra maar net, bedink jou eie antwoord. ‘n maatstaf vind ons in :
SPREUKE 31:26 AFR53
[26] Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong.
Ongelukkig word die tong ook negatief gebruik as mens kyk na Jakobus se woorde aan die gemeente:
JAKOBUS 4:2 AFR53
[2] Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.
Dit is duidelik dat hy nie van die fisiese praat nie maar van gelowiges se lewens wyse. Lees gerus die hele hoofstuk vir konteks. In teenstelling hiermee is hulle wat die gawe van liefde najaag. Hul het strome van lewende waters uit hul monde. Woord goud is hul kenmerk. 1 KORINTIËRS 13 beskryf dit pragtig en volledig as die hoogste gawe wat die mens kan besit, bo alle gawes en opofferinge. Laat ons ons dan beywer om met Woord goud op ons tong te leef.
Genade en Vrede vir jou.
David