Goeiedag.
Tema: Sin vir geregtigheid
Met die sondeval het die mens die vermoë om tussen goed en kwaad te onderskei ontdek. Dit geld vir alle mense wat op twee bene loop, ongeag opvoeding of agtergrond. Selfs in die mees primitiewe kulture is daar ‘n sin van orde en reg en verkeerd. Daar is dan geen mens wat hulself kan verontskuldig dat hul nie geweet het van reg en verkeerd nie. Dit staan in die Woord:
ROMEINE 2:14-15 AFR53
[14] Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; [15] omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,
Hierdie wete, laat die Woord toe om die volgende veralgemening te maak:
Spreuke 24:23-26 AFR20
[23] Ook hierdie spreuke is van die wyses: Om partydig te wees in regspraak is nie goed nie. [24] Wie vir ‘n goddelose sê, “Jy is regverdig” – volke sal hom vervloek, nasies sal hom verdoem. [25] Maar dit gaan goed met dié wat ‘n goddelose skuldig vind; oor hulle kom die seën van voorspoed. [26] Wie eerlike antwoorde gee, is soos ‘n soen op die lippe.
Dit gaan teen die mens se wese in om onreg te verdra of te sien gebeur. Die media werk hard daaraan om hierdie gewete of sin van geregtigheid in mense te vernietig. Gebruik pogings van breinspoeling in terme van sogenaamde mense regte. Dit word propageer dat elke mens vir homself kan besluit wat reg of verkeerd is. Wat ook deel is van hierdie sin van geregtigheid is die regstelling van die verkeerde, die behoefte aan wraak.
In die tyd van die OT Israel, is daar vrystede gebou waar mense kon skuil nadat wraak geneem is, n erkenning van hierdie behoefte. Daarom het God die doodstraf ingestel vir die sogenaamde hals misdade sodat die stelsel reg laat geskied. Dit het die mens vrygemaak van self wraak neem. Daar is niemand wat vrykom van dit wat hul verkeerd gedoen het nie. Hul wat sondig is onder ‘n vloek. God is die regter, die straf uitdeler, maar gelukkig ook die genadegewer.
Genade en Vrede vir jou.
David