Goeiedag.
Tema: Reaktiwiteit
Wanneer koeksoda en asyn gemeng word is daar ‘n hewige reaksie. Wanneer Alkalies en Sure gemeng word, vernietig dit die oorspronlike stowwe en vorm nuwe stowwe. Soortgelyk verander verhoudings mense, negatiewe verhoudings breek af en postiewe verhouding bou op. In die volgende gedeeltes word die reaksie op verskillende verhoudings met beeldspraak illustreer:
SPREUKE 25:24-28 AFR53
[24] Om te woon op die hoek van ‘n dak, is beter as by ‘n twisgierige vrou en ‘n gemeenskaplike huis. [25] Koue water op ‘n vermoeide siel, so is ‘n goeie tyding uit ‘n ver land. [26] ‘n Troebel fontein en ‘n vuile bron, so is die regverdige wat wankel voor die goddelose. [27] Om baie heuning te eet, is nie goed nie, maar om swaar sake na te speur, is ‘n eer. [28] ‘n Afgebreekte stad sonder muur, so is ‘n man wat sy gees nie kan inhou nie.
Dit is erg uitputtend om met ‘n befoeterde mens saam te leef. Iemand wat ongelukkig is in hulself en dan foutvind met ander en hul omstandighede. Selfs die Here het breekpunt bereik met Israel se onvergenoegdheid en gekerm in die woestyn. SY bonatuurlike teenwoordigheid was voordurend sigbaar in die wolk en vuur kolom. Selfs HY kon nie hul tevrede hou nie, wat nog Moses.
Vers 24 stel dit duidelik dat afsondering verkieslik is bo ‘n voortdurende getwis en ongelukkigheid. Almal wil in so ‘n situasie daaruit ontsnap want dit vernietig en vermoor jou menswees. Die kontras daarvan is in vers 25. Goeie woorde en bemoediging is ‘n lafenis vir die hele wese. Het jy al ondervind hoe ‘n positiewe benadering tot ‘n mens, positiewe verandering bring?
Vers 27 dui daarop dat dit nie noodwendig die ooglopende en maklike pad is om met ‘n ander mens te stap nie. Dit hou niks goed in om altyd die makilike pad van toegee en vrede te stap nie. Dit is ‘n proses van naspeur en ontdekking om ‘n ander positief te beinvloed. Vers 26 dui op die gevolge van die knieg buig voor die verkeerde. Dit is vernietigend vir die regverdige. Vers 28 dui op kwesbaarheid van een wat nie emosies kan beheer nie, soos n moeilike persoon. Hul ondergang is gewis.
Genade en Vrede vir jou.
David