Goeiedag.
Tema: Vertroue basis
Een van die belangrike oomblikke van groei tot volwassenheid is om tot die besef te kom van jou afhanklikheid. ‘n Mens het ander in jou lewe uiters nodig vir geluk en vreugde in jou eie lewe. Adam was ‘n volmaakte mens in homself maar die Here het ‘n deel uit hom verwyder en ‘n ander mens, Eva geskep. Daardeur kon Adam net weer volmaak wees indien Eva by hom was. Met die sondeval kon Adam nie Eva verwerp nie, want dan het hy ‘n deel van homself verloor. In die moderne samelewing word selfstandigheid en onafhanklikheid hoog op prys gestel. Mense jaag ‘n leë begrip van Selfvertroue na.
Daar is ‘n baie beter model naamlik vertroue in die Here, jou gesin, jou mede gelowiges, jou gawes, die voorsienigheid ens. Waar jy deel is van ‘n gemeenskap wat jou dra en ondersteun, en jy weer vir hulle. Die begrip; ” ek weet waarvandaan ek kom en waarheen ek op pad is”. Die Woord maan ons:
SPREUKE 27:1-2 AFR53
[1] BEROEM jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie.
Dit is ‘n goeie praktyk om kort en lang termyn beplanning te doen, dit beteken egter nie dat jy dit sal kan uitvoer nie. Uitvoering daarvan is afhanklik van geleenthede en omstandighede. Wanneer die drome dan uit genade realiseer sal jy soms lof daarvoor kry. Een van die mees veeleisende werke is seker om ‘n huisvrou te wees met kinders. Altyd regstaan met kos, huishou en nog baie waaraan ‘n man nie kan dink nie.
[2] Laat ‘n ander jou prys en nie jou eie mond nie; ‘n vreemde, en nie jou eie lippe nie.
Ek het nog nooit gehoor hoe ‘n huisvrou haarself prys nie, maar nog altyd nog net deur haar gesin. Dit is ‘n les wat ons ter harte kan neem. Sy kan vertroue put uit haar gesin se welstand. Dit is die tipe vertroue wat kom van dien. Netso dien baie mans in stilte. Wanneer persoonlike vertroue gebasser is op die breë basis van jou verhoudings en diens is daar nie onsekerheid oor jou identiteit nie. Dit is baie sterker as die misplaasde vertroue net in jouself, Selfvertroue.
Genade en Vrede vir jou.
David