Goeiedag.
Tema: Jaloesie
Daar is sekere karaktertrekke wat soos ‘n kanker groei. Dit is nie iets wat net gebeur en klaar kry nie, dit hou aan en aan. Dit is eienskappe soos koppigheid, en onvergenoegdheid maar veral jaloesie.
SPREUKE 27:4, 17 AFR53
[4] Woede is wreed, en toorn kook oor; maar wie kan voor jaloersheid standhou?
Jaloersheid is in wese selfsug wat ‘n ander niks gun nie. Dit gun nie ‘n ander ‘n plekkie in die son nie. Jaloesie wil al die aandag hê, is bang ‘n ander kry meer aandag, eer of erkenning. Jaloesie kan nie spanwerk doen nie want dit kan nie eer of sukses deel nie. Dit kan nie sien dat ‘n ander iets besit sonder om afgunstig te wees nie.
Jaloesie is soms baie subtiel. Dit verberg dit dikwels in kompetisie met ander. My kind moet beter wees as jou kind daarom sal ek druk todat hy bo is. Soms is getroudes jaloers op mekaar, dan kraak hul mekaar indirek af deurdat daar nie ondersteuning is vir mekaar nie.
Individiue se gawes verskil soos hul gesigte verskil daarom presteer hul verskillend. Dit is sinneloos om met ‘n ander te kompeteer, want sy beste verskil van jou beste. Dit is baie beter om jou eie gawes te ontdek en die beste daarvan te maak as om ‘n ander se sukses te beny. Die Woord leer ons om vergenoegd te wees met wie ons is en ons omstandighede.
I TIMÓTHEÜS 6:6 AFR53
[6] Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins.
Dit is ‘n deel van volwassenheid om jou eie beperkings te besef en die beste te maak van wat jy gekry het. Dit is nie nodig om jaloers op ‘n ander te wees nie, want elkeen het voldoende talente gekry om as hul hard werk ‘n waardige lewe te lei.
GALÁSIËRS 5:26 AFR53
[26] Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie.
Terwille van selfbehoud skakel mense nagatiewe mense uit hul lewe, dan raak diesulkes irrelevant vir hul. Terwyl jy ander beny en jaloets is, verbeur jy die geleentheid om self te groei want jou fokus is op verkeerde plek. Werk jou eie heil uit (Fil 2:13)
Genade en Vrede vir jou.
David