Goeiedag.
Tema: ‘n Oop kop
Die grootste geskenk in die lewe is seker om ‘n wysheid te verkry. Sinonieme daarvan is insig, begrip, verstaan, slim, intelligensie, ens. Daar sonder bly ‘n mens ‘n houtkapper en waterdraer. Nie dat daar oneer in hul werk is nie, maar dit is moeilike harde werk met lae besoldiging. Die lewe kan makliker wees.
Die hele boek van SPREUKE is daarop gerig om juis hierdie vaardigheid aan jou te leer. Met meer vaardighede kom better geleenthede om gemakliker te lewe. Dit kom alles uit die hand van God, wat gewillig is om die mens te leer om met begrip op te tree en te lewe. Die oponthoud is nie by HOM nie maar by die mens wat traag is om te leer en eie oortuiging te laat vaar. Waaksaamheid is ‘n groot deel van wysheid. Daarom staan geskrywe:
SPREUKE 4:23 AFR53
[23] Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.
SPREUKE 27:12-14 AFR53
[12] As ‘n skrandere die onheil sien, verberg hy hom; maar die eenvoudiges gaan verder, word gestraf.
Hierdie verse is van toepassing op alle gebiede on die lewe. Finansieel, gesin, huwelik, polities en baie ander. Waar ook al dit duidelik is dat moeilikheid kom, moet tydige voorbereiding en veranderinge gemaak word. Waar dit moontlik is vermy swaarkry, nie dat dit altyd moontlik is nie. Swaarkry is ‘n integrale deel van die lewe om die mens te vorm, te suiwer en te toets. Deur swaarkry verkry die mens die getuienis van standvastigheid en geduld wat die hoof komponente van geloof is.
Die Woord maak ‘n duidelike onderskeid tussen sekulere wysheid en Goddelike wysheid:
I KORINTHIËRS 3:19 AFR53
[19] want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang;
JAKOBUS 3:15 AFR53
[15] Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels;
‘n Persoon met Goddelike wysheid kan ook wéreldse wysheid besit maar dit geld nie omgekeerd nie. Met ander woorde Goddelike wysheid kan net deur Homself openbaar word, dit kan nie deur intelligensie verwerf word nie. HY is instaat om ‘n persoon met beide toe te rus.
Genade en Vrede vir jou.
David