Goeiedag.
Tema: Aalmoese
Ek voel dit is nodig dat ek moet uitbrei op die vorige gedagte van omgee. Jy gee om vir ander omdat daar ‘n vlees hart in jou is en nie een van klip nie. Daarom kan mens ander se vreugde maar ook hartseer deel. In so ‘n mate dat jy jouself soms isoleer om dit nie te intens te beleef nie. Dit is veral nodig as mens kyk na die ellende wat aangaan op aarde.
Ek dink nie daar is mense wat nie sterk gevoelens het as hul hulself toelaat om die lyding te bedink, as gevolg van gebeure in Ukraine, Gaza, Nigerië, Israel en ander brandpunte nie. Ook oor sake soos mensehandel, drank en dwelm misbruik, kinderarbeid, werkloosheid en ander nie. Dit laat mens wens dat die regverdige koninkryk van God gister al moes gekom het. Dit beweeg mens om te gee om verligting te bring aan slagoffers van hierdie gebeure en ook aan organisasies wat verligting bring.
Die Bybel gebruik so ‘n mooi woord vir gee,naamlik aalmoese. Soos ek dit verstaan is dit soms net die kleingeld in jou beursie om verligting te bring in ‘n ander se nood. Net genoeg vir die oomblik of die dag. Klein genoeg om nie ‘n ander se trots aan te raak nie, ook om nie afhanklikheid te skep nie, net genoeg om te oorleef. Ook te min, om trots by jouself te bring. ‘n Pragtige getuie van so ‘n persoon is Corneluis, ons vind dit in :
HANDELINGE 10:2, 4 AFR53
[2] Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God.
[4] En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom.
Hieruit kan ons die afleiding maak dat God met welgevalle neerkyk op mense wat die geloof verenig, met hul goeie werke. Daar is baie Skrifte wat jou aanmoedig om nood te verlig, onder andere:
SPREUKE 28:27 AFR53
[27] Wie aan die arme gee, sal nie gebrek ly nie; maar hy wat sy oë toemaak, word swaar vervloek.
My bede is dat die Here elkeen se oë en harte sal oopmaak vir die nood rondom ons.
Genade en Vrede vir jou.
David