Goeiedag.(Tema:Dra sorg)
Daar is ‘n pragtige Arikaanse spreekwoord: As dit pap reën moet jy skep. Dit beteken gebruik ‘n geleentheid terwyl dit daar is. Geleenthede is ‘n geskenk wat dadelik aangegryp moet word met baie oorleg. Elke dag bring nuwe geleenthede vir voortgesette groei, bou op suksesse van gister. Dra sorg dat dit wat jy het maksimum aandag en sorg kry.
SPREUKE 27:18, 23-27
[18] Wie ‘n vyeboom oppas, sal sy vrugte eet; en hy wat vir sy heer sorg, sal geëer word.
[23] Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee; [24] want ‘n skat is nie vir ewig nie — of sal ‘n kroon wees van geslag tot geslag? [25] As die gras verdwyn en die jong gras verskyn en die bossies van die berge bymekaargemaak word, [26] dan is daar lammers vir jou kleding en bokke as ‘n koopprys vir grond, [27] en genoeg bokmelk as voeding vir jou huis en as lewensonderhoud vir jou diensmeisies.
Dit is nie nodig om kommentaar te lewer op hierdie Skrifte nie want die beginsels is duidelik uitgespel. Hulle wat noukerig sorg dra van hul geleenthede sal die vrug daarvan pluk. Ooglopend word landbou net as illustrasie gebruik, dit geld vir elke aspek van elke mense se lewe. Gebrek aan ywer vernietig entoesiasme vir ‘n saak en lei tot die doodloop daarvan. In swaar tye is dit jou ywer en toewyding wat jou deurdra, al voel jy soms nie daarna nie. Dit is geloof in aksie, om aan te hou ten spyte van omstandighede wat buitendien altyd wissel. Handoek ingooi is nooit n opsie nie, dit het Jesus se lewe gekos om SY taak te voltooi. Daarom kon HY sé: ” Dit is volbring”. Hy het homself totaal gewy aan diens onder erge vervolging, die Apostels het Sy voorbeeld gevolg
Dit is gevaarlik om die goeie lewe wat jy het, as vanselfsprekend, of as jou reg te beskou. Dit lei tot ondankbaarheid en traagheid. Is dit so dat elke ding wat jy doen tot Gods se eer gedoen moet word? Sal HY tevrede wees met ‘n halfhartige poging terwyl HY alles gegee het? HY vra dat elkeen met sy voete op die grond ‘n lewe van diens sal lewe waar jy ook al geplaas is.
Genade en Vrede vir jou.
David